R0,00 0

Cart

No products in the cart.

’n Klippie kan ’n wêreld se verskil maak
August 15, 2025

Klein gebare – groot verskil!

Ons leef in ’n wêreld waar almal jaag – van werk na huis, van verpligting na verpligting. Tussen al die geraas en gejaag is dit maklik om te vergeet dat ’n klein gebaar ’n groot verskil kan maak. Wat as ek vir jou sê dat iets so eenvoudig soos ’n klippie iemand se dag kan verander?

Dít is die hart van die Klippie Projek.

Die idee is eenvoudig, maar kragtig.

Neem ’n gewone klippie. Verf dit met iets mooi, iets wat jou laat glimlag – dalk ’n vrolike blom, ’n inspirerende aanhaling, selfs net ’n eenvoudige “Hou moed!”. Skryf op die agterkant #OpVakansieBoerdery of #KlippieProjek en laat dit agter waar jy gaan: op ’n strand, by ’n kampterrein, in ’n park, by ’n piekniekplek ens.

Wat dan?

Iemand, êrens, gaan jou klippie optel. Miskien ’n ouer persoon wat alleen voel. Miskien iemand wat in stilte deur iets moeiliks gaan. Miskien ‘n mamma wat moeg is na ‘n lang dag van kinders en alle ander verpligtinge. Jou boodskap op daardie klippie kan net presies wees wat hulle op daardie oomblik nodig het.

Dit gaan oor meer as net verf en klippe

Ons doen dit nie net vir die kuns nie. Ons doen dit omdat ons glo dat mense mense nodig het. Dat ons mekaar kan optel, al is dit deur ’n onbekende se hand. Elke hutsmerk wat op ’n klippie staan, verbind die vinder terug na ons gemeenskap — Op Vakansie Boerdery — waar stories, foto’s en glimlagte gedeel word.

Dit skep ’n kettingreaksie van hoop.

Hoekom nou?

Vakansietye is die perfekte geleentheid om hierdie boodskappe van hoop te versprei. Dis wanneer mense rondbeweeg, nuwe plekke besoek en tyd het om stil te staan en raak te sien. Ons wil honderde – of duisende – klippies landswyd los, maar dit begin by jou.

Of jy ’n kunstenaar is of net iemand met ’n paar verfkwaste en ’n groot hart, – jy kan deel wees. Sit jou storie op ’n klippie, los dit en laat dit sy pad loop.

Hoe kan jy deel wees?

  1. Sluit aan by ons verf-groep op WhatsApp: Klik hier of stuur n WhatsApp boodskap na 0736752078.
  2. Begin verf – skryf jou boodskap en moenie vergeet van jou hutsmerk nie: #OpVakansieBoerdery / #KlippieProjek / #ovb
  3. Los jou klippies wanneer jy op vakansie gaan of ’n nuwe plek besoek.

💬 “Jy weet nooit wie se lewe jy aanraak met iets kleins nie.”

Kom ons laat ons klippies reis. Kom ons maak iemand se dag.
Kom ons wys dat klein gebare ‘n groot verskil kan maak.

© 2026 Nellen Designs